Aanlyntoetse
Aanlyntoetse is presies gelykstaande aan individuele toetsing of groeptoetsing maar word tuis gedoen. Die proses behels dat die kliënt (of kind) ons Biografiese vraelys voltooi waarna die akademiese toetse tydens 'n Zoom-sessie met die sielkundige afgeneem en/of verduidelik word.
Aanlyntoetse is veral gerieflik omdat dit dadelik kan plaasvind en kliënte nie lank hoef te wag vir afsprake of resultate nie.
Aanlyntoetse was voorheen veral gewild vir persone wat nie toegang gehad het tot hierdie dienste in hul omgewing nie. Deesdae is aanlyntoetsing egter die norm vir meeste kliënte.
Aanlyntoetsing word nie aanbeveel vir persone met ‘n geskiedenis van ernstige leerprobleme nie.
Groeptoetse
Groeptoetse vind gewoonlik tussen Februarie en September op ’n maandelikse basis plaas. Indien geen groeptoetse hier getoon word nie, beteken dit dat die groeptoetstydperk vir die jaar reeds verby of vol bespreek is. Ons stel voor dat u in so ’n geval aansoek doen om aanlyn- of individuele toetse te doen.
U kan wel versoek dat ons ‘n spesiale groeptoets vir u skool of gemeenskap reël maar die ligging en hoeveelheid leerders sal die koste bepaal.
U kan hierdie toetse versoek deur die sielkundige direk te kontak:
Dr. Ezette du Plessis : 0828050736
E-posadres: [email protected]
Individuele Toetse
Tans beskikbaar in Pretoria, Oosrand en Stellenbosch
Indien u verkies dat die toets in die teenwoordigheid van ‘n sielkundige afgelê en die uitslae persoonlik deur die sielkundige oorgedra word, kan u die sielkundige direk skakel by een van die volgende nommers of u kan ’n navraag doen deur op die boonste skakel te klik. Ons beveel soms aan dat u sekere van die vraelyste tog aanlyn invul omdat dit heelwat spaar in konsultasietyd en -kostes. Die sielkundige wat met u profiel werk sal u dan dienooreenkomstig kwoteer.
U kan ook self ’n afspraak maak deur die sielkundige te skakel:
Dr. Louise Boshoff Prinsen (Pretoria):
Tel: 082 491 1336
Me. Chereen Cloete (Pretoria):
Tel: 082 366 8170
Me. Marelise Botha (Stellenbosch):
Tel: 082 897 1470
Me. Gene Erasmus (Oosrand)
Tel: 082 676 9665
Moet aanleg in Graad 7 getoets word?
Ja, dit is belangrik om reeds in Graad 7 te toets vir aanleg en belangstelling.
Laerskole se standaarde verskil. Leerders wat bv. 50% vir Wiskunde kry in laerskool X sal in laerskool Y 70% behaal (en andersom). Dit kan gebeur omdat laerskole hulle standaarde aanpas by die gemiddelde leerling-profiel van hulle gemeenskap. Dit kan ook wees dat ‘n leerder se “belangstellings” bepaal word deur sy huidige prestasies of deur die onderwyser wat die vak aanbied. Die Graad 7- toetsing word dus hoofsaaklik gebruik vir die volgende redes:
- Dit gee die werklike stand van die leerder se akademiese vaardighede sonder dat die standaard van die skool ’n rol speel.
- Dit gee ’n aanduiding van die kind se belangstellings sonder beïnvloeding deur skoolprestasies of voor-en afkeure van onderwysers.
Voordele van groep- of aanlyntoetsing
Dit is goedkoper en meer prakties.
Die Differensiële Aanlegtoets Vorm S wat vir hoër akademiese en sosio-ekonomiese groepe ontwerp is, is spesifiek opgestel om in groepverband of aanlyn afgeneem te word. Dit gee ook ’n baie meer akkurate idee van hoe u kind selfstandig funksioneer.
In uitsonderlike gevalle blyk dit uit hierdie toetsing dat individuele toetsing of begeleiding van ’n sielkundige nodig is. Voorbeelde hiervan is IK-toetse, persoonlikheidstoetse, emosionele evaluasie of ondersteuning, studiemetodes, aansoeke vir ekstra tyd, leerprobleme, ens.
Wat in Graad 7 getoets word
Aanleg
Die AANLEGTOETS wat ingeskakel word, is die volle Differensiële Aanlegtoets Vorm-S (DAT S). Hierdie is ’n hoëvlak-toets wat die ware stand van ‘n kind se akademiese vaardighede gee in die volgende kategorieë:
- Taalvaardigheid (woordeskat en leesbegrip)
- Numeries (wiskundige vermoë)
- Ruimtelike vermoë ( visualisering en tegniese insig)
- Werktempo (kan aanduiding gee of ekstra tyd benodig word vir vraestelle)
- Meganiese vermoë (tegniese insig)
- Geheue (belangrike implikasies vir bemeestering van leervakke)
- Logiese Redenering (verbale en nie-verbale redenering. Gee ‘n aanduiding van algemene “IK”)
- ’n Telling van minder as 5 vir enige van bo-genoemde vaardighede kan dui op uitdagings in hierdie verband terwyl tellings van 7 en hoër gunstige vooruitsigte in hierdie rigtings aandui.
Hierdie battery kan ook aandui of ‘n kind meer tegnies of meer akademies geneig is sodat die leerder die regte hoërskoolkeuse of vakkeuses (indien beskikbaar) kan maak vir Graad 8.
Dit is belangrik dat ouers reeds in Graad 7 weet of ‘n kind se vaardighede in bogenoemde kategorieë voldoende is. Indien nie, is daar nog tyd om daaraan aandag te gee voordat hy/sy finaal vakke moet kies vir Graad 10. Indien leerders byvoorbeeld ondergemiddelde prestasies in wiskunde-aanleg behaal, sal Edu-Integral die leerder geleentheid gee om ‘n kort bykomende diagnostiese toets in te skakel met die oog op hulpverlening.
Belangstellings
Hierdie toetsing is baie belangrik vir voorligters wat later help met Graad10-vakkeuses. Dit help voorligters om die leerder se hele geskiedenis in ag te neem wanneer vak-aanbevelings vir Graad10 tot 12 later gemaak word.
Indien ‘n kind slegs in Graad 9 getoets word vir vakkeuses het die voorligter (sonder ’n Graad-7 evaluasie) geen idee of ‘n kind se “belangstellings” dalk deur ’n onderwyser, toetspunt of ‘n onlangse ervaring beïnvloed is eerder as werklike belangstelling nie. Tydens die graad 7-toetsing is ‘n kind se belangstellings ook nog relatief onaangeraak deur aspekte soos finansiële en/of sosiale status en toets-prestasies.
Deur die twee evaluasies (Graad 7 en Graad 9) word ook bepaal hoe konstant of wisselvallig ‘n kind se belangstellings is. Indien die voorligter in Graad 9 sien dat ‘n kind se belangstelling baie verskil van die Graad-7-evaluasie kan hy in gedagte hou dat die kind dalk vakke uit verskillende rigtings moet kies omdat nog verdere ontwikkeling in die toekoms kan plaasvind.
Indien die voorligter egter sien dat die kind se belangstelling in die twee jaar (Graad 7 tot Graad 9) baie konstant gebly het, kan hy/sy dan met vrymoedigheid aanneem dat die kind waarskynlik nie gaan verander nie en kan ’n meer spesifieke beroepsgerigte “pakket” aanbeveel word vir Graad 10-vakkeuses. Dit kom veral ter sprake wanneer besluite oor vakke soos Wetenskap, Rekeningkunde, Ingenieursgrafika ens. later geneem moet word.
Die Graad 7- evaluasie help dikwels ook om finaliteit te verkry wanneer ‘n kind op die ou end (Graad 11 en 12) moet kies tussen twee sterk beroepsmoontlikhede.
Die volgende belangstellings-rigtings word in orde van voorkeur aangedui:
- Tegnies (handewerk)
- Wetenskaplik ( wiskundig, fisiese wetenskappe, biologie)
- Sosiaal (mense en/of diere)
- Ondernemend (besigheid)
- Kunste
- Data-manipulasie (syfers en/of rekenaars)
Bo-genoemde rigtings word tydens die Graad 9-evaluasie in groot detail ondersoek.
Ontvang ek ’n verslag?
’n Ervare sielkundige werk persoonlik met elke kind se profiel.
Na psigometriese toetsing word ‘n verslag uitgereik met die resultate. Die verslag kan per e-pos gestuur word of ‘n gedrukte kopie word uitgereik slegs by skole waar onderwysers die toetsing inisieer. Die verslag is nie baie breedvoerig nie omdat die kind nog nie ‘n beroep moet kies nie. Daar moet ook vermy word om leerders te vroeg in bepaalde rigtings te stuur omdat heelwat ontwikkeling nog plaasvind tussen Graad 7 en Graad 10.
Die Graad 7-resultate van die evaluasie is egter baie waardevol wanneer hy/sy in Graad 9 moet vakke kies.
Indien die sielkundige wat met die kind se Graad 7-profiel werk opmerk dat daar inkonsekwentheid of gevaartekens in die kind se profiel voorkom, sal dit persoonlik onder die ouers se aandag gebring word met die nodige verwysings en/of aanbevelings.
Indien die kind na ’n hoërskool gaan waar vakke gekies moet word vir Graad 8, sal die sielkundige ook vakke aanbeveel wat die beste by die kind se profiel pas.
Die inligting aangaande die toetsing is hoogs vertroulik en word slegs aan die ouer van die betrokke leerder beskikbaar gemaak. Die ouers kan wel skriftelik versoek dat die inligting wat uit die ondersoek verkry is aan ‘n ander sielkundige of voorligter beskikbaar gemaak word vir verdere individuele begeleiding.
Konsultasie met die sielkundige?
’n Geskrewe verslag word uitgereik. Indien daar egter probleemareas in die betrokke kind se profiel opgemerk word, sal die sielkundige telefonies met die ouers kontak maak om die kind se profiel te bespreek en toepaslike aanbevelings en verwysings te maak. Na ontvangs van die verslag kan ouers versoek dat die sielkundige hulle kontak om onduidelikhede uit te klaar.
Indien verdere konsultasies nodig blyk te wees, word dit persoonlik met die aanbevole sielkundige of onderwyser gereël. Sielkundige konsultasiefooie is dan betaalbaar soos deur RGBSA voorgeskryf.
Wat doen ek indien my kind reeds met ’n leerprobleem gediagnoseer is?
Daar word aanbeveel dat die betrokke kind wel saam met die groep getoets word omdat dit ’n idee gee van die kind se werklike vermoëns. Ouers kan versoek dat die sielkundige wat die kind evalueer hom/haar dophou tydens die toetsing ten einde toets-gedrag waar te neem.
Die resultate wat in hierdie toetse verkry word, kan gebruik word om aansoek te doen vir spesiale voorsiening soos konsessies. Dit word egter verder deur die ouers se eie of ’n aanbevole sielkundige hanteer en vorm nie deel van die fooi wat vir hierdie dienste betaalbaar is nie.