Aanlyntoetse
Aanlyntoetse is presies gelykstaande aan individuele toetsing of groeptoetsing maar word tuis gedoen. Die proses behels dat die kliënt (of kind) ons Biografiese vraelys voltooi waarna die akademiese toetse tydens 'n Zoom-sessie met die sielkundige afgeneem en/of verduidelik word.
Aanlyntoetse is veral gerieflik omdat dit dadelik kan plaasvind en kliënte nie lank hoef te wag vir afsprake of resultate nie.
Aanlyntoetse was voorheen veral gewild vir persone wat nie toegang gehad het tot hierdie dienste in hul omgewing nie. Deesdae is aanlyntoetsing egter die norm vir meeste kliënte.
Aanlyntoetsing word nie aanbeveel vir persone met ‘n geskiedenis van ernstige leerprobleme nie.
Groeptoetse
Groeptoetse vind gewoonlik tussen Februarie en September op ’n maandelikse basis plaas. Indien geen groeptoetse hier getoon word nie, beteken dit dat die groeptoetstydperk vir die jaar reeds verby of vol bespreek is. Ons stel voor dat u in so ’n geval aansoek doen om aanlyn- of individuele toetse te doen.
U kan wel versoek dat ons ‘n spesiale groeptoets vir u skool of gemeenskap reël maar die ligging en hoeveelheid leerders sal die koste bepaal.
U kan hierdie toetse versoek deur die sielkundige direk te kontak:
Dr. Ezette du Plessis : 0828050736
E-posadres: [email protected]
Individuele Toetse
Tans beskikbaar in Pretoria, Oosrand en Stellenbosch
Indien u verkies dat die toets in die teenwoordigheid van ‘n sielkundige afgelê en die uitslae persoonlik deur die sielkundige oorgedra word, kan u die sielkundige direk skakel by een van die volgende nommers of u kan ’n navraag doen deur op die boonste skakel te klik. Ons beveel soms aan dat u sekere van die vraelyste tog aanlyn invul omdat dit heelwat spaar in konsultasietyd en -kostes. Die sielkundige wat met u profiel werk sal u dan dienooreenkomstig kwoteer.
U kan ook self ’n afspraak maak deur die sielkundige te skakel:
Dr. Louise Boshoff Prinsen (Pretoria):
Tel: 082 491 1336
Me. Chereen Cloete (Pretoria):
Tel: 082 366 8170
Me. Marelise Botha (Stellenbosch):
Tel: 082 897 1470
Me. Gene Erasmus (Oosrand)
Tel: 082 676 9665
Graad 9 Aanleg-en belangstellingstoetse
Die aanleg- en belangstellings-evaluasie wat in Graad 9 gedoen word, is waarskynlik die belangrikste stap in die proses van toekomsbeplanning. Keuses wat hier gemaak word, het direkte implikasies vir die studierigtings of beroepe wat later vir leerders toeganklik sal wees.
Graad 9 aanleg-en belangstellingstoetse is baie waardevol en word aangewend vir die volgende redes:
- Dit help met besluite oor die mees gepaste vakkeuse vir Graad 10 en verder.
- Dit gee inligting oor leerders se akademiese vermoëns sodat hulle realistiese doelwitte kan nastreef en realistiese studie-rigtings kan ondersoek.
- Dit verskaf ’n volledige beeld van ‘n leerder se belangstellingsgeneigdheid en toekomsaspirasies.
- Dit help om leerders akademies te motiveer omdat dit hulle ‘n idee gee van waarheen hulle oppad is.
- Dit dien as bevestiging vir dit wat die ouers reeds vermoed aangaande hul kinders, sodat ouers die belangrike ondersteuning gebaseer op objektiewe inligting kan doen.
Indien leerders, soos aanbeveel word, reeds in Graad 7 ook getoets is, kan die sielkundige beoordeel hoe konstant of wisselvallig ‘n leerder se belangstellings oor ‘n twee-jaar periode was.
‘n Leerder se akademiese vordering kan ook objektief gemoniteer word. Akademiese vordering en vermoë kom veral ter sprake wanneer besluite geneem moet word oor die neem, of nie neem, van kernvakke soos Wiskunde, Wetenskap, Rekeningkunde, ens.
Indien enige van bogenoemde faktore toepaslik is, is dit wenslik dat die betrokke leerder getoets word. Edu-Integral neem aanleg- en belangstellingstoetse aanlyn, individueel en in groepverband af sodat hierdie dienste meer toeganklik en bekostigbaar is.
Alvorens ‘n bespreking gemaak word, is dit wenslik dat die betrokkenes deeglik bewus is van wat in- en uitgesluit word by aanlegtoetsing.
Wat word ingesluit by Graad 9-toetsing?
Biografiese vraelys
Agtergrond- en kollaterale inligting word ingewin.
Volledige Differensiële Aanlegtoets (Vorm S)
Die prestasie op hierdie toets kan gebruik word om die waarskynlikheid van sukses vir ‘n sekere rigting te bepaal. Aspekte wat ingesluit word is die kind se taalkundige vermoë (woordeskat en leesbegrip), wiskundige vaardigheid, ruimtelike vermoë, werktempo/akkuraatheid, geheue, meganiese insig en redeneervermoë (verbale en nie-verbale redenering). Hierdie prestasies word ook met ‘n leerder se rapport-punte vergelyk om te bepaal of hy/sy volgens vermoëns presteer.
Belangstellings-batterye
Behalwe vir wat ‘n leerder op die biografiese vraelys aandui, word drie bykomende belangstellings-batterye ingeskakel wat ‘n idee gee van sy/haar aktiwiteit-voorkeure, werkplek-voorkeure én voorlopige beroeps-voorkeurrigtings. Daar word bepaal hoe realisties en standvastig óf wisselvallig die leerder se belangstellings is deur die verskillende profiele met mekaar te vergelyk. Dit word ook vergelyk met voorkeure soos aangedui deur die Gr 7-evaluasie (indien dit by die laerskool gedoen is).
Draw-A-Person
Hierdie is ‘n kort emosionele “siftingsbattery” wat ingeskakel word om emosionele of gesindheidsprobleme te identifiseer. Indien daar rede tot kommer blyk te wees, sal ouers persoonlik ingelig word. Dit vorm nie werklik deel van die verslag nie.
Verslag
Die sielkundige ontleed en interpreteer die leerder se profiel en gee ook ‘n volledige skriftelike verslag met aanbevelings. Die doelwit van die vak-aanbevelings is om so veel as moontlik toekomsmoontlikhede vir ‘n leerder oop te hou wat met sy persoonsprofiel ooreenstem. Dit moet in gedagte gehou word dat hy/sy nog nie ‘n beroep kies nie maar solank die spesifieke beroepsrigtings moet begin ondersoek wat in die profiel aangedui word. Die aanbevelings is nie voorskriftelik nie en die uiteindelike verantwoordelikheid van die vakkeuse bly steeds die ouer en kind s’n.
Terugvoer
Terugvoer geskied deur middel van ’n telefoniese gesprek en ‘n omvattende skriftelike verslag. Indien dit blyk dat verdere konsultasies of evaluasies nodig is, sal dit tydens die telefoniese gesprek aan die ouer oorgedra word.
Vertroulikheid
Inligting wat uit die ondersoek verkry word, is hoogs vertroulik en word slegs aan ouers van minderjarige leerders bekendgemaak. Indien verdere begeleiding deur die vak-voorligter of skool se sielkundige benodig word, kan die ouer self die verslag aan hom/haar beskikbaarstel. Indien verlang word dat ‘n leerder se lêer aan ‘n ander sielkundige oorgedra word vir hulp met konsessies of ander aspekte, moet skriftelike toestemming daarvoor gegee word.
Wat hierdie evaluasie uitsluit en redes.
IK-Toets
‘n IK-syfer is vir die doel van hierdie toetsing irrelevant – genoegsame afleiding aangaande ‘n leerder se akademiese potensiaal kan gemaak word uit sy/haar se werklike skolastiese prestasie volgens sy/haar rapporte, en volgens die DAT-aanlegtoets wat ingeskakel word.
Persoonlikheidstoets
Ervaring het geleer dat die enigste aspek van die persoonlikheidstoets wat op hierdie stadium die aanbevelings beïnvloed is of ‘n leerder met mense wil werk of liewer alleen (ekstroversie/introversie). Die belangstellingsbatterye wat ingeskakel word, tesame met ouers se eie kennis van hul kind, gee genoegsame aanduiding hiervan. Indien daar wel bekommernis oor ‘n leerder se persoonlikheid is, is dit wenslik dat daar eerder ‘n individuele afspraak gemaak word met ‘n sielkundige wat daarin spesialiseer. Tydens die Gr. 11/12-toetsing word persoonlikheid wel deeglik bestudeer met die oog op beroepskeuse.
Waarom ‘n groep- of aanlyntoets?
Dit is baie goedkoper.
Die rede waarom dit soveel goedkoper is as ‘n individuele evaluasie is omdat die ouer slegs hoef te betaal vir die tyd wat dit die sielkundige neem om die betrokke kind se resultate te verwerk, te interpreteer en om die verslag te skryf. Daar is dus nie ‘n fooi betaalbaar vir die 5 ure konsultasie-tyd tydens die afneem van toetse nie aangesien die toetsing in groepverband afgeneem word. Die koste van ‘n individuele toetsing is ongeveer R1 250 per uur.
In uitsonderlike gevalle blyk dit uit hierdie toetsing dat verdere toetsing of begeleiding van ’n sielkundige nodig is. Voorbeelde hiervan is IK-toetse, persoonlikheidstoetse, emosionele evaluasie of ondersteuning, studiemetodes, aansoeke vir ekstra tyd, leerprobleme ens. Hierdie toetse vorm nie deel van Edu-Integral se groeptoetsings nie, maar die resultate kan wel help om die korrekte aanbevelings and verwysings te doen.
Indien enige van bogenoemde nodig is, was daar reeds ‘n besparing van 5 ure sielkundige konsultasietyd en die sielkundige wat daarmee help kan makliker identifiseer wat nog gedoen moet word.
‘n Versoek mag gerig word dat die kind se hele lêer aan ‘n ander sielkundige of voorligter oorgedra word.
Reëlings ten opsigte van resultate
Die resultate word individueel geprosesseer en die betrokke Edu-Integral sielkundige werk persoonlik met elke leerder se profiel. Omdat dit intensiewe interpretasie verg, word ’n beperkte hoeveelheid verslae per dag geprosesseer. Besprekings word egter beperk om voorsiening te maak dat alle uitslae vinnig beskikbaar is. Ouers ontvang telefoniese terugvoer voordat ’n verslag aan hulle ge-e-pos word. Dit word gedoen sodat die sielkundige wat die aanbevelings maak, sekere insette van die ouer ook in ag kan neem.
Die resultate word verwerk in dieselfde volgorde waarvolgens betaling op die bankstate aangedui word. Almal ontvang dus nie op dieselfde tyd hulle verslae nie.
Die resultate van hierdie toetse is streng vertroulik en word slegs aan die ouers of wettige voogde van minderjarige leerders bekendgemaak. Indien enige verdere begeleiding deur die skool se voorligter of sielkundige benodig word, moet die verslag self aan hierdie persone voorsien word.
Konsultasie met die sielkundige
U ontvang ’n geskrewe verslag en telefoniese of persoonlike terugvoer. Dit hang af van die toetsopsie waarvoor u bespreek het.
Indien verdere konsultasies nodig blyk te wees, word dit persoonlik met die betrokke of ‘n aanbevole sielkundige gereël. Sielkundige konsultasiefooie is dan betaalbaar soos deur RGBSA voorgeskryf.